Hulle sê dis die klein goedjies wat die verskil maak en die klein dingetjies wat seer maak. En ek stem saam!
Jy sou dink dis die reuse keuse om jou land (tydelik) vir 'n koue klein eiland-landjie in die Noordelike halfrond te verruil wat lewensveranderend is. En tog verhuis vragte vol mense elke dag tussen kontinente, state en lande. Na die groot oppak, die ure se administrasie, die peperduur vliegtuigkaartjie, die tranedal op die lughawe en die lam boude in 'n vliegtuig, is jy maar net nog een van baie wat op hulle voete land en begin hardloop, as jy hier in Engeland aankom.
Vriende in Asiatiese lande soos Japan, vertel van ekstreme aanpassings in gemeenskappe wat nie eens dieselfde alfabet as ons gebruik nie. Wat nog te sê van dieselfde taal. 'n Plek waar reuke, kleure en klanke totaal teenoorgesteld van jouself is. Op die oog af, in die groot en ooglopende maniere, lyk Engeland baie eenders as Suid-Afrika. Ons bestuur ook aan die linkerkant van die pad. Ons praat ook, onder andere, Engels. Plekke soos supermarkte, klerewinkels en poskantore lyk baie eenders as by die huis. En tog, is die klein verskilletjies merkbaar, en hul gevolge interesant.
Maksimale harmonie
In die winkels, wat van buite af bekend lyk, is die geure van lekkergoed en skyfies effens anders. (Behalwe as jy by die 'Saffa shop' gaan koop.) Een van die dinge wat my nou nog uitvang is Walkers Crisps se kleurkodes vir hul skyfie-geure. Jare se indoktrinasie deur Simba en Willards het die assosiasie tussen ligblou en sout-en-asyn skyfies in my kop vasgesement. Hier verkies Walkers om kaas en uie met 'n ligblou pakkie te merk, en sout-en-asyn as liggroen.
Toe ek voorberei het om hierheen te verhuis was ek baie benoud oor die idee om 'n huis met baie ander mense te deel. Soos die stories vertel word, deel jong mense van Suid Afrika en ander lande, maar groot huise in die woonbuurte buite London. Die vrees vir hierdie dramatiese aanpassing was groot. Soos ek gevrees het, deel ek steeds 'n badkamer met sewe ander mense. Maar ons vermoëe as mense om aan te pas by ons onstandighede is werklik verbasend. Ek sou byvoorbeeld, nooit in Suid-Afrika 'n pan onmiddelik gewas het na gebruik nie, maar in hierdie huis is daar drie huismaats wat tou staan om 'n eier in dieselfde pan te bak. Ek het geleer om dit net eenvoudig te doen. Skottelgoed word vinnig gewas en gedroog na gebruik vir maksimale harmonie in die huishouding. Op Sondae middae, lê ons vuil wasgoed in 'n lang ry in hopies voor die wasmasjien soos ons geduldig vir ons beurt wag om skoon klere vir die week te verseker.
Stimulasie en oorvloed
Ek is 'n trotse Suid-Afikaner, en verlang baie na my mooi land en die lekker mense, maar ek moet bieg daar is elemente in die Britse samelewing wat my baie beindruk. Elemente soos daardie rooi busse en ondergrondse treine wat so sinoniem met hierdie stad is. Ek onthou dat ek gereeld saam met my pelle op Saterdae by Avondale stasie in Parow vir 'n trein Stad toe sit en wag het. Daar het ons soms 'n uur lank in die son gesit en wag op 'n verlate stasie om 'n trein te vang. Hier loop die treine op die sekonde soos aangekondig. As 'n diens vyf minute durf vertraag wees, is mense ooglopend onsteld. Busse hardloop altyd soos belowe. Ek werk oral oor die hele massiewe Londen, en ek verbaas my altyd as ek in 'n wildvreemde bushalte 'n bordjie lees wat se 'n bus sal oor drie min verbykom, en wraggies drie minute later trek 'n rooi bus voor my in.
Kyk, Suid-Afrika is mooi, wyd, wonderderlik en kleurvol. Londen, die hoofstad van Engeland is klein, beknop en oorbevolk, maar onophoudelik interesant. Geskiedenis het diep groewe in hierdie strate gelê, en waar ook al jy wandel voel jy die TYD wat deur hierdie STAD gevloei het. Die landskap by die huis het op my dieselfde uitwerking. Alhoewel die wonders hier dikwels mensgemaak is, is die Britse nalatingskap onbeskryflik indrukwekkend. Ek woon al 'n jaar hier en my asem word nog gereeld weggeslaan. Na twaalf maande ontdek ek steeds parke, museums, kafee's, winkeltjies en kunsgallerye wat ek nooit van geweet het nie. Die gemeenskap is 'n mengpot van nasies en oriëntasies, die mees kosmopolitaanse plek op aarde. Altyd iets om te doen of te ontdek, die speelgrond van die wêreld, stimulasie in oorvloed.
Dis die klein dingetjies wat anders is in London as by die huis. Sommiges, soos die effektiewe publieke vervoer sisteem, is onmiddelik fantasties. En ander, soos ligblou pakkies skyfies, neem langer om aan gewoond te raak.