Daar is 'n paar dinge wat onbeskryflik lekker is. Roomys op 'n helder dag, tone in die see. Braaivleis op 'n Sondagmiddag in die sonnetjie. Goeie musiek. 'n Lang strek. Diep en goed slaap. Maar beter as enige van die vooraf genoemde dinge is die samesyn van goeie vriende, veral na 'n lang tyd verby gegaan het, almal goed na mekaar verlang het en genoeg stories versamel het om terug te bring en uit te ruil.
'n Suid-Afrikaner in Londen is alles behalwe 'n ongewone ding. Hier loop, soos ons na verwys word, duisende "Saffa's" rond. Meeste verkies om saam te woon en saam te kuier. Maar al woon jy saam met ander Suid-Afrikaners of Aussies, Pommies of Pole, rangskik almal hulself op 'n tasbaar tydelike manier. Iemand trek in, iemand trek uit. 'n Goeie pel se visa verval. Mense verander van plan. Trek terug huis toe. Reis verder. Ons fisiese verhoudinge met mekaar het 'n tydsbeperking, en "totsiens" word gereeld gebruik.
Ek het vir amper 'n jaar na een van my beste vriende verlang. Hy was in Suid-Afrika, terwyl ek Londen probeer gewoond raak het. Twee maande gelede het hy hier kom oorstop oppad Europa toe. Die kuier was heerlik, maar voor ek my oë kon uitveë was hy weer oppad, en ek het onmiddelik verlang na die lang nagte van filosofiese argumente met rooiwyn, die automatiese verstandhouding en ons gemeenskaplike waansinnige sin vir humor. Om op te som, die tipe verhouding wat jare neem om te kweek. 'n Verhouding wat ouer is as die laaste ou kort jaartjie in Londen.
Teen half elf vanaand het my ou maat van 'n trein af getuimel en by my voordeur opgedaag na twee maande in Europa. My oë was reeds aan die toe val voor die televisie terwyl ek vir hom gewag het, maar toe daai bekende blik voor my staan toe is ek wa-wyd wakker. Hy het saam met hom stories gebring van reg oor Europa, en lê een na die ander voor my neer soos geskenkies wat ek met opgewondenheid opskeur. In ruil deel ek grappies en idees wat al lank wag om gehoor te word deur iemand wat my ken sonder onderskrifte of verduideliking.
Daar is 'n paar dinge wat onbeskryflik lekker is, maar nie een so wonderlik soos om in 'n onsekere Londen die geselskap van 'n ou pel te geniet nie.