SA Times Online

Hanneke

 

Blog Archive List

Die lekkerste lekker

Bookmark and Share
Hanneke
Publish Date: 15 July 2009 09:20AM
Article history
3 comments

Daar is 'n paar dinge wat onbeskryflik lekker is. Roomys op 'n helder dag, tone in die see. Braaivleis op 'n Sondagmiddag in die sonnetjie. Goeie musiek. 'n Lang strek. Diep en goed slaap. Maar beter as enige van die vooraf genoemde dinge is die samesyn van goeie vriende, veral na 'n lang tyd verby gegaan het, almal goed na mekaar verlang het en genoeg stories versamel het om terug te bring en uit te ruil.

'n Suid-Afrikaner in Londen is alles behalwe 'n ongewone ding. Hier loop, soos ons na verwys word, duisende "Saffa's" rond. Meeste verkies om saam te woon en saam te kuier. Maar al woon jy saam met ander Suid-Afrikaners of Aussies, Pommies of Pole, rangskik almal hulself op 'n tasbaar tydelike manier. Iemand trek in, iemand trek uit. 'n Goeie pel se visa verval. Mense verander van plan. Trek terug huis toe. Reis verder. Ons fisiese verhoudinge met mekaar het 'n tydsbeperking, en "totsiens" word gereeld gebruik.

Ek het vir amper 'n jaar na een van my beste vriende verlang. Hy was in Suid-Afrika, terwyl ek Londen probeer gewoond raak het. Twee maande gelede het hy hier kom oorstop oppad Europa toe. Die kuier was heerlik, maar voor ek my oë kon uitveë was hy weer oppad, en ek het onmiddelik verlang na die lang nagte van filosofiese argumente met rooiwyn, die automatiese verstandhouding en ons gemeenskaplike waansinnige sin vir humor. Om op te som, die tipe verhouding wat jare neem om te kweek. 'n Verhouding wat ouer is as die laaste ou kort jaartjie in Londen.

Teen half elf vanaand het my ou maat van 'n trein af getuimel en by my voordeur opgedaag na twee maande in Europa. My oë was reeds aan die toe val voor die televisie terwyl ek vir hom gewag het, maar toe daai bekende blik voor my staan toe is ek wa-wyd wakker. Hy het saam met hom stories gebring van reg oor Europa, en lê een na die ander voor my neer soos geskenkies wat ek met opgewondenheid opskeur. In ruil deel ek grappies en idees wat al lank wag om gehoor te word deur iemand wat my ken sonder onderskrifte of verduideliking.

Daar is 'n paar dinge wat onbeskryflik lekker is, maar nie een so wonderlik soos om in 'n onsekere Londen die geselskap van 'n ou pel te geniet nie.

Comment on this Article | Start a forum on this topic

(required)  
(optional)
(required)  
Please enter the code shown above in the box below:
   
Anonymous
Jacques
17 Jul 2009, 17:49

Ek wat myself nogal sou wou insien as iemand wat nogal ons taal goed kan verwoord sal maar op hierdie een moet kniebuig...

Al is ek nou al sewe jaar hier en het groot pelle sien kom en gaan, en selfs baie goeie vriendskappe gekweek , ruk Hanneke nou n hartspier wat direk gekoppel is aan n sakkie vloeistof naby my oog.

Toevallig het ek hierdie vriend van Hanneke ontmoet en kan waarlik se die vriend is great,en hulle twee is soos warm toast en botter.

Dankie vir ou memories wat goed is vir my siel.

Anonymous
19 Jul 2009, 14:07

Ek is lankal op my kniee Jacques.  Han, jy't 'n pragtige talent.  Verskoon hierdie stelling: "Maar dit herinner my aan my ma se skryfstyl - Passievol, intelligent, verhalend met 'n tikkie humor en moederlikheid..."

Ek gaan weer hier kom kuier..

Anonymous
23 Jul 2009, 14:38

Jy maak sommer hierdie bleek verskoning van 'n somer in Londen weer helder.

Dankie vir 'n lekker brokkie sonskyn.

14-15 Child's Place, Earl's Court, London, SW5 9RX, UK
Tel: +44 (0) 20 7373 3377 - Fax: +44 (0) 20 7341 6600

© South African Times, part of TNT Publishing Limited