Klein Karoo op ’n Vrydagaand in London
Klein Karoo op ’n Vrydagaand in London
Terwyl ek vir die meisietjie agter die toonbank wag om my kaartjies op te spoor, hoor ek die dame langs my hoflik beswaar maak oor die taal van die toneelstuk. Ek giggel in my mou en wandel kroeg toe met 'n breë bors.
Die taal wat die tannietjie oor kla is Afrikaans. Sy is Engels. Nie 'n ongewone verskynsel in Engeland nie. Die Afrikaanse toneelstuk is die vreemheid. Oppad teater toe en in oploop na die reenerige Vrydagaand, het ek baie gewonder oor die ontvangs wat David Kramer se "Koos Sas" *, sy nuutste musiek-blyspel, in Londen sou ervaar. Die behoefte om aan iets, 'n plek, 'n taal, mense, te behoort is altyd teenwoordig. Dus het die idee van Afrikaanse teater my onmiddelik opgewonde gehad. Die taal van my familie en my geheue, in 'n Engelse straat, in 'n Engelse stad, in 'n Engelse land.
"Koos Sas," is die verhaal van die laaste Boesman van Montagu. Selfs net hierdie beskrywing roep beelde op uit die droewig mooie Suid Afrikaanse landskap. Wat nog te sê van die verhoog? Laasgenoemde is gestileer soos die Klein Karoo, met geel en rooi skakerings en die indruk van die aarde wat verewig strek. Soos ons plekke in neem hoor ek Afrikaanse geselsies om my zoem. Daar is ook Engelse (en ander) mense in die gehoor. Vir hulle is Engelse bo-skrifte voorsien. (Skerms bo die verhoog met die Engelse vertaling.) Blykend is die betekenis suksesvol oorgedra. Toe te skryf aan die kleurvolle rolvertolking van die akteurs, wat meer as spreektaal kommunikeer. Dit is die verhaal van 'n verdrukte groep Suid-Afrikaners. Van verlies en van moed. Van die brawe "Koos Sas," die laaste Boesman van Montagu en sy liefde vir die landskap, vir Lenie en haar boetie, Skilpad.
David Kramer het my 'n peperduur vliegtuig kaartjie Suid-Afrika toe gespaar. Wat hy en sy akteurs in 'n uur en twintig minute reggekry het was om my huis toe te neem, met woorde, ritmes en beelde. Sou ek nog in Suid-Afrika woon, weet ek dat ek "Koos Sas" sou geniet het, maar ek het dit soveel meer geniet omdat ek ver van die huis af is. Uitdrukkings soos "Ek en my skaduwee, ons dans hier in die stof, vanaand gaan die sterre in die hemel ontplof," kon ek styf om my skouers trek soos 'n kombers, warm en bekend.
Ons almal weet David Kramer is 'n teater legende. Om as Suid-Afrikaner in Londen sy werk mis te loop is soos om nee dankie te sê vir pospakkie biltong van jou ouma af. Maar om "Koos Sas" in London mis te loop sou eenvoudig bitter hartseer wees.
*Koos Sas speel by die Tricycle Theatre in Kilburn High Road tot die 1ste Augustus 2009.